Veiligheidshoof: Noordstreek
4 months ago
**Veiligheidshoof (Gemeenskapsveiligheid) vir die noordstreek (Gauteng, Mpumalanga en Limpopo)**
AfriForum is op soek na 'n veiligheidshoof wat verantwoordelik sal wees vir die algemene koördinering, uitbou en operasionele ondersteuning van AfriForum se veiligheidstrukture en aan ander toepaslike rolspelers in die afdeling Gemeenskapsveiligheid. Hierdie verantwoordelikheid sal insluit om gemeenskappe in die noordstreek (Gauteng, Limpopo en Mpumalanga) te dien. Die kantoor is in Pretoria geleë en die suksesvolle kandidaat moet sy/haar pligte vandaar uitvoer.
Om hiervoor in aanmerking te kom, benodig jy 'n seniorsertifikaat met 'n verskeidenheid van kort
- en langkursussertifikate in veiligheid en/of projekbestuur, asook vyf tot sewe jaar ondervinding in veiligheid en/of projekbestuur.
Sleutelverantwoordelikhede sluit in om
- omgewingsontledings oor die stand van gemeenskapsveiligheid op taktiese vlak uit te voer;
- streeksplanne oor gemeenskapsveiligheidsaktiwiteite in werking te stel en te moniteer;
- behoeftes rondom operasies en uitrusting te assesseer; en
- behoeftes rondom voortgesette opleiding te bepaal.
Die veiligheidshoof sal daadwerklike aksies neem en verantwoordelikheid aanvaar vir die operasionele paraatheid van strukture, gemeenskapsweerbaarheid en goeie samewerkingsverhoudings met alle belangegroepe.
Die suksesvolle kandidaat moet oor die volgende vaardighede beskik:
- die vermoë om 'n duidelike en gedeelde visie te skep
- bewese vermoë om groepe en individue te motiveer en te inspireer
- 'n sterk ontwikkelde etiese aanslag
- betroubare uitvoering van doelwitte
- uitstekende kommunikasievaardighede
- die vermoë om selfstandig en logies te kan werk
- kreatiewe probleemoplossingsvaardighede
- goeie administratiewe en organiseringsvermoë
**Aansoeke moet voor of op 30 Augustus 2024 ingedien word.**
- Indien jy nie terugvoer ontvang binne drie weke ná die sluitingsdatum nie, kan jy aanvaar dat jou aansoek onsuksesvol was_._